Ek weet nie hierdie nie. Maar ek het onlangs ‘n woonplek betrek, ja, deels weens eksistensiële eerbaarheid, maar dan ook, daar waar voor my hoofvenster, ‘n teerpad soos ‘n outydse 100 meter of wat van ‘n atletiekbaan voor my uitgestrek gelê het, het subtiel van baie dinge gefluister. Ek weet nie of my dringende keuse intuïtief of instinktief gewees het nie. Freud wil nie roer vanuit sy graf nie. En Rogers draai sy dooie kop om doodstil en fyner my te bekyk.  Maar daar gaan nie ‘n dag verby wat my nie verbyster met die rouheid van die eerlike, ware, lewe hier voor my op straatvlak laat nie.

Ek onthou van lank gelede ‘n fliek van ‘n man, Harvey, wat elke dag op ‘n gegewe tyd sy kroeg afgeneem het. Toe al besef dat die dring, drang-tema was om niks, niks verlore te laat gaan nie.

So sit ek toe nou vanmiddag by my lessenaar en Bob Dylan sing vir my oor die gelatenheid, gelassenheit, het die Duitse filosowe dit ook genoem.  Van hierdie Kersfeesdagmiddag. Niks groots gaan volg nie, veeleisende leser, maar hierdie wel. ‘n Jong swartman stap met sy jong dogter die pad suidekant toe af. Die Nigeriërs maak vrolike geraas aan hulle linkerkant. Nie juis vrome oordenking nie, net geluide en so om die dag vir die verlange van ‘n hart te pluk. Ek sit hoog en kyk, en die man stap ferm die teerpad af. Maar daai klein meisiekind van hom. Skraal, mooi somerrokkie aan, stap links van hom saam na iewers wat vorentoe ‘n naam het. Hy stap ferm, maar sy hoor die middag, sy hoor die Nigeriërs wat sing en praat van ‘n meer vriendelike wêreld, en ek weet sy kan nie vir my en Bob Dylan hoor nie, maar daar gaat sy toe. Haar voete begin om die strak teerpad in ‘n ritme te trap. Nee, ‘jive’ is die regtige naam. Skraal beentjies wat skop van vreugde vir ‘n noot, en sy kap haar strak pa met ‘n vrolike sykant.

En toe gebeur dit. Hy vat sag na haar hand, en sy sien dit en sy vat sy hand soos met ‘n hart. En daar stap die twee aan. Hand aan hand. Dit, geagte siniese analitikus, noem mens menslikheid wat nie stront van ‘n teerpad of die lewe vat nie. Dit noem mens die heilige gewone momente wat diewens, en skurke, en narsisiste nooit sal verstaan, of aan kan deel nie. Ek weet nie of politici eers moet probeer nie. Geldliefhebbers moet ook maar bloot dit los. Menslikheid vra so onverwags om nog mooi gebore te word. So weet ek op hierdie Covid Kersfeesmiddag. Dankie Jeshua, jy en jou tweelingbroers uit ander gelowe, laat eeue later ‘n jong meisiekind af in ‘n pad hartlangs huppel en trippel. 

Wim van der Walt – Bellville